|
Meer oor Mari van der Walt
Mari is 'n Christen-kunstenaar wat die skep van mooi skilderye ten volle
geniet. Sy het 'n fyn aanvoeling vir haar medemens, omgewing en die mooi
dinge van die lewe.
Op skool het sy in die koor gesing en per geleentheid was sy ook in 'n talentkompetisie vir sang.
Mari het in standerd 5 'n prys gekry vir kuns. Later in standerd 8 het sy slegs
vir 1 jaar kuns geneem. Hoewel jongmense in haar omgewing met kinders
wat kuns as vak geneem het, gespot het, het sy besluit dat dit haar
nie meer gaan pla nie en dat sy dit eerder as 'n geleentheid gaan beskou om haar skilderwerk te
verbeter. Tot haar verbasing het sy baie goed gedoen en het haar
kunsonderwyser haar werk vir ander mense gaan wys. Haar een vriendin het
haar daardie tyd vertel dat hulle aardrykskunde-onderwyser haar kunswerk
vir hulle klas gewys het en vir hulle gesê het dat Mari vir die eerste
keer kuns neem en dat sy 'n natuurlike aanleg het. Mari was in Hoërskool Middelburg tot
en met einde standerd 8. Na standerd 8 is
sy na Hoërskool Belfast, waar sy ander vakke moes kies.
Mari sê dat haar inspirasie nie juis van baie mense om haar was nie
was. Dit is maar net 'n talent wat God
haar gegee het. Haar ouers was vir haar groot steunpilare, omrede hulle
haar
gehelp het en in haar talent geglo het. Selfs met die negatiewe kritiek
wat dikwels rondom
kunstenaars draai, soos aanmerkings dat "kunstenaars nie lekker is nie en nie al hulle skroewe bymekaar
het nie", het hulle haar steeds ondersteun. Ouers se hulp en positiewe
aanmoediging is 'n baie belangrike faktor, al verstaan hulle nie altyd
die kind se kunstalent nie.
Mari bly tans in Hennenman in die Vrystaat. Dit is 'n baie klein plaasdorpie
en sy geniet dit baie om daar te woon. Die gejaag van die groot stede is glad
nie daar te siene nie. Dit laat mens baie aan die plaaslewe dink. Mari
hou van "ou goed". Sy bly in 'n ou huis met 'n heerlike stoep, en sy
versamel antieke meubelstukke as sy die geleentheid kry. En dan hou sy ook
baie van porseleinpoppe.
Marie is lief vir diere en sy het op 'n stadium, as jong kind, vyf
hanslammers gehad wat sy moes versorg. Sy het nou ook sommer 'n hele
paar troeteldiere. Sy het honde, 'n makgemaakte haas wat om die huis
rondhardloop, 'n handgrootgemaakte kokketiel en twee mak duiwe, wat soms
ook in die huis probeer rondkuier. Mari het die een duif op hulle
grasperk opgetel na 'n hewige storm, toe maak sy hom groot. Die ander duif
is deur iemand vir haar gebring om groot te maak. Daarom is die twee duiwe
baie mak.
Mari sê:"My diere is vir my 'n ontspanning en 'n
vreugde op hulle eie manier. Mense sê ek het 'n dieretuin, maar dit is
lekker so en die ontspanning van diere-geselskap is ook van waarde."
Dit is vir Mari aangenaam om 'n doek voor haar te hê, 'n beker tee
op die kanttafeltjie en met lekker musiek in
die agtergrond. So al met die kwas in die hand sit sy dan en luister en skilder. Tog is tyd saam met
haar geliefdes vir haar kosbaar en so ook haar stiltetyd voor die
Here. Vir haar is haar geloof in die Here die begin en einde van alles.
"God gee en God neem en mense is
niks sonder God nie."
"Ek vertrou maar altyd op God om my te help. Somtyds droom ek
van iets moois en dan kan ek dit skilder. Ek is baie lief vir die
natuur. Dan
hou ek ook baie daarvan om met kleur te kan speel en sover is die meeste van my
skilderye gedoen met helder kleure.
Ek hou van kleur en aangename roosreuk en die twee, kleur en reuk, loop
hand aan hand met mekaar."
"Ek glo nie daarin om goed te verf wat my geestelike lewe negatief
kan beïnvloed nie. Ek verf dit wat God my gee om te verf, want dit is
tog 'n talent wat ek by Hom gekry het.
Ek het nie altyd alles so geestelik gesien soos nou nie. Deur die jare
heen het ek God beter leer ken, soos ek na Hom begin vra het. Ek het nog
altyd in Hom geglo en gebid, maar het nie die Skepper geken soos nou nie. My
persoonlike verhouding met God het versterk, soos sekere dinge in my lewe
gebeur het en ek ouer geword het. God het Homself ook aan my geopenbaar
soos dinge gebeur het. Dit is
wonderlik om so in gebed met God te kan praat en
Hom al hoe beter te leer ken. Ek hou daarvan as God my antwoord. Dit maak my so
opgewonde, dat ek dit vir almal moet vertel, maar nie almal is so
opgewonde daaroor soos ek nie, want ongelukkig glo almal nie in Hom nie."
Buiten nou vir haar skilderwerk, geniet Mari dit
om betrokke te wees by die kerkbediening. Sy is ook ernstig daarop
gesteld om jong mense te probeer help en hulle aan te moedig om al hoe nader
aan ons Hemelse Vader te leef.
Sy stel ook belang in die waarde wat kunsterapie vir gestemde kinders
bied. "As jy hulle hande en gedagtes kan stimuleer met 'n tipe kunsvorm,
kan dit hulle die wêreld se goed doen. Kunsterapie word baie gebruik by
gestremdes om hulle te help.
Jy sal verbaas wees om te sien wat sulke kindertjies alles kan
doen en met hulle handjies kan maak. Ek het byvoorbeeld kindertjies gesien
wat met hulle voete die mooiste goedjies skilder, wat ek met my hande nie
eers kan doen nie. En die genot op hulle gesiggies is ongelooflik!"
Mari sal met graagte uitnodigings na uitstallings oorweeg. Sy sal ook per
geleentheid, op versoek, klasse aanbied by skole.
Lees gerus verder wat vriendinnne van Mari sê en leer Mari as mens en
kunstenaar beter ken.
Nog meer oor Mari:
|