|
Nog meer oor Mari van der Walt
Lees meer van ons vriendin
Mari
Lees meer oor daardie mooi eienskappe in Mari wat sy self te beskeie
is om oor te praat, of self sou belig.
Natascha se
kommentaar
Haar vriendin Natascha skryf soos
volg oor Mari:
Ja, ek het ‘n paar maande saam met Mari gewerk en ek het die beste met
haar oor die weg gekom. Sy is opreg en ‘n goeie vriendin om mee te praat
die dag as ‘n mens ‘n probleem het, of sommer net wil gesels. Sy is ook
altyd vriendelik en bereid om ‘n persoon te help. Sy is ‘n baie
gemaklike mens om mee oor die weg te kom.
Tydens die periode wat ons saam gewerk het, het ek ontdek dat sy skilderwerk doen, en dat sy ‘n groot belangstelling daarin het en dat sy baie
lief is om dit te doen. Ek het haar toe op ‘n dag genader en gevra of sy
nie vir my iets wil skilder nie (ek het toe my eie prente en idees
gehad). Ek het glad nie geweet hoe sy skilder of hoe van haar werke lyk
nie, maar ek het volle vertroue in haar gehad.
‘n Paar dae later het sy
vir my gesê dat my skilderye klaar is en dat ek dit kan kom haal. Ek was
regtigwaar verstom, want ek het net vir haar verduidelik presies wat ek
wil hê en wat die kleure moet wees. (Dit was varkore wat sy moes
skilder, op drie verskillende doeke) Dit was regtig pragtig.
Ek het haar later weer genader om vir my 'n mooi skildery te verf en dit was
nog eens iets besonders.
Ek weet dat Mari ‘n wonderlike talent het, en dat sy
dit met liefde en oorgawe doen. Ons bly vandag in Bloemfontein, en almal
wat in my huis kom, wil weet waar ek aan die skilderye kom.
Ek kan met opregtheid sê dat Mari ‘n wonderlike mens is en ek weet dat
sy bitter graag wil skilder, sy het al so baie daaroor gepraat en dit was, vandat ek haar ken, een van haar drome om
voltyds te skilder en dit
nie net haar stokperdjie te maak nie, maar ‘n beroep. Ek weet dat sy
haarself sal bewys, want sy is so opgewonde oor die nuwe geleenthede
wat sy nou kry.
Groete,
Natascha

Mari se vriendin, Linda, skryf soos volg oor Mari:
Soos jy weet, is Mari nie juis 'n mens wat haar eie trompet blaas nie
en daarom is dit goed dat haar vriendinne dit maar doen.
Mari was van kleintyd af baie lief vir teken en verf. In haar
ouerhuis het sy baie aanmoediging gekry om te skilder. Haar ouers het haar
gelos as sy so besig was met die kunswerkies en het haar goedjies in die
sitkamer of so gesit, sodat almal wat daar kom kuier het, dit kon sien.
Daar is gehelp rame maak en die kunsboek is dikwels vir besoekers gewys.
Mari hou baie van diere, mooi musiek en antieke goed soos porseleinpoppe. Sy hou ook van die heerlike dinge wat die natuur bied, soos
natuurskoon landskappe, blomme en voëls. Mari geniet lekkerruikgoed
baie. Haar gunsteling is rose en laventel. Sy het al sakkies geverf
waarin die potpourri kom, wat mens dan tussen jou klere kan sit, dus
vir lekkerruikgeure in laaie en kaste. Mari hou ook van kerse met
heerlike aroma. Lemoen
bloeisels is nog 'n gunsteling van haar.
Ek ervaar Mari glad nie as die tipiese sg. "kunstenaar prima-donna-tipe" wat met almal en alles moeilik is, of iets verkeerds vind met
die kleinste ou dingetjie nie. Daardie soort stoutkind-mentaliteit is
nie deel van haar kunstenaarskap nie.
Trouens, ek ervaar haar as 'n rustige en wyse persoon wat die lewe
vierkantig in die oë kyk, 'n gelowige wat streef om voluit die Christenlewe te leef.
Ek glo Mari gaan 'n sukses maak van die taak
as skilder en kunstenaar. Trouens, sy is reeds albei, maar ek dink die
tyd het haar soms gekortwiek om haar werke na behore te skep en te
bemark, soos wat sy dalk sou wou. Ek glo
dat haar werke internasionale waarde het en deur die publiek gesien en
geniet behoort te word. En as mens boonop te wete kom dat sy 'n Christen
is, kry dit nog veel meer waarde vir mede-Christene.
Mari is lief vir die Here, Sy Woord (die Bybel), vir haar gesin en mooi
dinge soos die natuur, diere, mooi prente, ander kunstenaars se
skeppings, oulike foto's, lekker geselskap en mooi rustige musiek. Vir haar is
samesyn met familie en vriende belangrik en sy is gretig om geestelike
en emosionele lesse wat die lewe bied, te leer.
Haar werke en ook haar benadering tot haar kuns is eg, natuurlik en
onopgesmuk. Sy beoefen haar skilderkuns met vreugde en dit straal uit
haar pragtige werke. Wat 'n voorreg om so 'n mens jou vriendin te kan
noem.
Liefdegroete,
Linda
 |